Wednesday 8 June 2011

Ek het hierdie raak gelees en moet dit net met julle deel!

"‘n Pot vol lewe

Dis ‘n lieflike somer oggend. Ek draf vinnig by die kwekery in om ‘n klient se vetplant bestelling op te laai. Die pragtige groen spekboompies trek my aandag en ek laai ‘n ekstra een vir my tuintjie. Later die middag is my spekboompie egter iets van die verlede. Een van die werkers het die kan diesel agter of die trokkie oopgelos en die diesel het bo-oor die spekboompie gespat. Haar blaartjies het reeds begin verkleur en die grond is pap-nat van die diesel. Vies, sommer baie vies sit ek die vernielde spekboompie agter die Wendyhuis waar ek haar later sal weggooi. Dis twee weke later. Ek soek na die blou gieter, en loer agter die Wendyhuis in. My mond val oop. ‘n Klein stukkie van die dooie, diesel-deurdrenkte spekboompie, het oorleef! Ek tel die potjie op en kyk na die natuurwonder. Net een takkie van die spekboompie het gras groen gebly en is besig om nuwe blaartjies te stoot. Ek vat onmiddelik die snoeiskêr, knip die gesonde takkie af, maak ‘n pot vol kompos, gooi ‘n miswurm en ‘n ekstra erdwurm in vir geluk en plant die takkie. As hierdie plantjie so graag wil leef, verdien sy ekstra liefde en aandag. Sommer so op my knieë, voor die blompot, dink ek aan die vrouens wat my omring. Baie van ons oorleef ten spyte van die diesel wat soms op ons gemors word. Ons klou vas hou uit, stoot selfs nuwe blare in doodgaan tye. Al is die grond waar ons geplant is dood en sonder enige waarde, bly ons groen en lewendig, net soos hierdie spekboompie. My gebed vir jou is, dat jy met jou oë op God gerig sal vasbyt. Jouself sal inwurm, in Sy liefde. Sal aanhou dankbaar wees vir die son wat oor goed en sleg skyn. Nooit sal ophou bid en droom van ‘n uitplant dag in beter grond nie. Ek weet God beplan vir elkeen van ons ‘n pot met vrugbare grond en ‘n ekstra erdwurm net vir die liefde!"

1 comment: